AH0001 Wat elke Christen moet weet (18/5/2009)
'n Bespreking van Romeine 8:28-30
FONDAMENTSTENE VAN DIE GELOOF
Dit is opvallend dat die apostel Paulus, as hy vir die gemeentes bid, soos klokslag vir Geesgewerkte begrip en geheiligde
kennis bid (Efe 1:17-18; Fil 1:9-10; Kol 1:9-10). En as hy ná die fundamentele lering van die eerste elf hoofstukke, in Romeine
12 begin met sy praktiese oproepe, "op grond van die groot ontferming van God", beklemtoon hy onmiddellik die absolute
noodsaaklikheid van waarheidsbegrip vir 'n lewe wat God behaag (Rom 12:2). 'Ware waarheid' is nie 'n randsaak nie, dit is
lewensbelangrik vir 'n godvrugtige lewe en ware kerkwees. Dit is waarom die apostels, naas sonde, niks met meer felheid
weerstaan het as dwaalleer nie.
Die Skrifgedeelte onder ons vergrootglas begin dus uiters betekenisvol: "Ons weet ...". Hy aanvaar elke Christen weet en
verstaan die dinge waarvan hy praat. En inderdaad is die waarhede wat in ekstrakvorm in hierdie drie verse saamgeknoop is,
deel van die ABC van die Christelike geloof - nie omdat dit so maklik is nie, maar omdat dit so fundamenteel is. Hy in wie se
hart dit gegraveer is, het greep op van die belangrikste hoekpenne van God se heilsopenbaring. Hy het 'n lopersleutel wat een
na die ander Skrifgedeelte oopsluit. Hy het 'n kompas wat keer op keer koers gee deur die doolhof van hedendaagse leringe.
Hy het 'n onuitputlike bron van innerlike sekuriteit, vrede en vreugde wat hom deur 'n duisend storms dra.
Dr. Martyn Lloyd-Jones sê oor hierdie verse: "We are considering here one of the most remarkable statements that even this
apostle ever made. It is also one of the most comforting statements in the whole range of Scripture. We are surely entitled to
say that in respect of the statement of exalted doctrine there is really nothing higher than this. Here is ultimate doctrine." (The
Final Perseverance of the Saints, p.159). Hy gaan dan voort en wy 208 bladsye aan die behandeling van verse 28-30 (17 van
sy preke op skrif).
DIE KONTEKS
In hierdie hoofstuk wil die apostel diegene wat deur geloof geregverdig is, verseker van hulle uiteindelike redding. Al is daar
dus nog baie worstelinge met sonde (7:7 e.vv.) en baie lyding (8:17 e.vv.), moet hulle weet dat die almagtige en ewigsoewereine
God self onfeilbaar besig is om hulle verlossing in hulle uit te werk. Daar is dus hoegenaamd níks wat hulle tot in
ewigheid van Sy liefde kan skei nie. Hierin, in die finale analise, lê hulle sekuriteit - en nie in hulle eie vermoëns nie.
Dit is waarom Paulus, wanneer hy in v. 28-30 vyf van die hoofelemente van die reddingsproses noem (hieronder een vir een
behandel), hom beperk tot dinge wat God alléén doen. [Daar is uiteraard ook elemente van die reddingsproses waarby die
mens wel aktief betrokke is (soos geloof, bekering, heiligmaking, volharding). Maar daarin is op sigself geen grond vir
sekuriteit te vind nie, aangesien dit vanweë die mens se betrokkenheid altyd gebrekkig en feilbaar is. Gevolglik werk die
apostel nie nou daarmee nie. Nadat hy egter die spyker van 'die groot ontferming van God' behoorlik ingeslaan het, laat hy wel
vanaf Hoofstuk 12 die aksent op die mens se verantwoordelikheid en rol val.]
STAP VIR STAP DEUR DIE VERSE
Die gelowige se hele lewe, "alles", moet gesien word in die lig van wat die apostel hier sê. Dit geld dus alles wat oor sy
pad kom, sonder uitsondering - ook die lyding en gebrokenheid (v. 17 e.vv.) wat sy lewe nou nog kenmerk.
Die Grieks van "ten goede meewerk" dui op 'n samewerking 'na die goeie toe'. Wat is hierdie goeie? Vers 29 is duidelik:
gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (Vgl. Heb 2:10 e.vv.). God is besig om vir Homself 'n huisgesin te skep en
Hy gebruik alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. Daar is dus planmatigheid, koers,
bestemming in die lewe van elkeen wat deel het aan hierdie proses! En vanuit die konteks (v. 31 e.vv.) is dit duidelik dat
die Here God self sal toesien dat dit uiteindelik volmaak-suksesvol uitwerk.
Maar dit geld nie van alle mense nie. Dit is net waar van diegene wat (vir) "God liefhet".
Wat beteken dit om Hom lief te hê? Hoe kom dit tot uitdrukking? 1Jhn 5:3 gee die antwoord: liefde vir God is om Sy
gebooie te bewaar. En om Jesus lief te hê, beteken ook presies dieselfde (Jhn 14:21, 23-24; 15:9-10).
Waarom het net sekere mense Hom lief? Omdat hulle "volgens Sy besluit geroep" is! Hier is géén sprake van menslike
inisiatief, willekeur of meriete nie. Agter diegene wie se lewens gekenmerk word deur innige verlange, inspanning,
worsteling en trane om hulle liefde vir die Here in gehoorsaamheid tot uitdrukking te bring, sit die uitverkiesende en
herskeppende genade van 'n soewereine God.
Vers 29 begin met "want" (Gr.). Hy motiveer dus sy stelling in die vorige vers. Waarom is v. 28 van hulle waar? Omdat
hulle opgeneem is in God se ewige verlossingsplan! En oor hierdie plan gaan die apostel nou in v. 29-30 wonderlike
dinge sê.
Die mense van wie hier gepraat word, is "vantevore geken" (die NAV se "lank tevore verkies" is 'n parafrase, maar
teologies in orde). Die idee is nie dat God vooraf bloot van hulle geweet het nie, maar dat Hy hulle liefgehad het en hulle
dus uitgekies het - dat Hy 'Sy hart op hulle gesit het'.
Om te ken' dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gen 4:1: "die mens het sy vrou,
Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Eks 2:25; Amo 3:2; Jer 1:5; Mat 7:22-23 (Jesus sê nie
Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis 'te veel' van hulle geweet); 1Kor 8:3; 2Tim 2:19. Vgl. Jhn 17:3.
Die bepaalde begrip, 'vooraf ken', word ook op vier ander plekke in die N.T. met God as subjek gebruik: Han 2:23 en
1Pet 1:20 (Jesus Christus as objek); Rom 11:2 (Jode as objek); 1Pet 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit
meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra - dit dui op liefhê, op verkiesing.
Nie alleen het God hierdie mense lief nie, Hy het hulle ook "verordineer" of "bestem". Hy het dus 'n plan met hulle. Die
Engelse predestine (NIV) vat die idee goed vas: om 'n 'destinasie' of bestemming vooraf vas te maak.
Hierdie eindbestemming word dan eksplisiet deur die apostel genoem: "om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy
Seun".
Tydens hulle lewe word hulle dan deur God "geroep". Hoewel die Bybel soms van 'n 'algemene roeping' praat as dit
verwys na die Evangelie-uitnodiging wat tot alle mense gerig word (vgl. Mat 20:16; 22:14), dui 'roeping' in die Nuwe
Testament meestal, soos ook hier, op 'effektiewe roeping'. Dit is God se skeppende en lewendmakende spreke wat die
wedergeboorte in 'n sondaar bewerkstellig en hom so uit sy geestelike dood opwek tot die ewige lewe in Christus.
Presies hier begin die toepassing, die verwerkliking van redding in 'n sondaar se lewe. Só skep God immers altyd - deur
sy gesagvolle spreke. Reeds in Gen 1 kom dit nege maal soos 'n refrein: "God het gesê: Laat ... ". Vgl. ook Rom 4:17.
Ander Skrifgedeeltes waar 'roeping' so gebruik word, is o.a.: Rom 1:6-7; 1Kor 1:9,26; Gal 1:15; Efe 1:18; Fil 3:14; 2Tim
1:8-9; Heb 3:1; 2Pet 1:10.
Hierdie lewendmakende werk van God geskied, wanneer en soos dit Hom behaag, deur die verkondiging van die
Evangelie (Rom 1:16; 10:13-15; 1Kor 1:21; 2Tes 2:14). Die 'effektiewe roeping' werk dus deur die 'algemene roeping' -
deur die lewende (1Pet 1:23) waarheidswoord (Jak 1:18).
Geestelik lewend gemaak, stel hierdie mense nou hulle geloofsvertroue in Christus en word hulle deur God
"geregverdig" (die NAV se "vrygespreek" laat nie reg geskied aan die ryk en positiewe inhoud van hierdie begrip nie,
soos hieronder sal blyk).
Regverdiging (ook regverdigmaking genoem) moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat die gevalle mens
'n dubbele probleem voor God het. 'n 'Dubbelkuur' is dus nodig om 'n sondaar te red. Enersyds moet die vloek van sy
skuld voor God uitgedelg word; andersyds moet sy onvermoë om God te behaag, aangespreek word.
Regverdiging is dus 'n dubbele juridiese uitspraak van God t.o.v. alle mense wat waarlik in Christus as Saligmaker glo.
[As uitvloeisel van God se lewendmakende roeping, is selfs hierdie geloof 'n gawe van Hom (Efe 2:8-9; Fil 1:29; 2Pet
1:1)]. Agter hierdie uitspraak lê die beginsels van plaasvervanging en toerekening (Vgl. Rom 4 en 5). Die Seun van
God, as Hoof van die nuwe mensheid, het in die plek van God se uitverkorenes kom staan. Negatief is hulle
sondeskuld aan Hom toegereken, 'teen Sy rekening afgeskryf'. Hy is dus met hulle skuld 'gedebiteer'. Dit is egter nie al
nie! Positief word Sy onuitputlike rykdom (Sy volmaakte geregtigheid, Sy gehoorsaamheid aan die Vader) aan hulle
toegereken, 'na hulle rekening oorgeboek'. Hulle word dus met Sy gehoorsaamheid 'gekrediteer'. Regverdiging is iets
wat 'in God se boeke' gebeur!
As God hierdie opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun straf, sterf Hy daaronder - maar in die proses bewerkstellig Hy
vryspraak vir sondaars, sodat hulle onskuldig voor God staan (Mat 20:28; Rom 3:25; 2Kor 5:21; Gal 3:13; Kol 2:13-15;
1Tim 2:5-6; 1Pet 2:24). Dis egter net die helfte van die wonder van regverdiging. Christus se toegerekende
geregtigheid maak óók dat hulle in God se boeke die status het van mense wat Sy wet volkome gehoorsaam het (Rom
1:16-17; 3:21-28; 8:33-34; 10:3-4; Fil 3:9) - en wat, as sulks, kwalifiseer vir die ewige lewe!
Jesus se passiewe gehoorsaamheid red sondaars dus van die ewige verdoemenis; en Sy aktiewe gehoorsaamheid
verwerf vir hulle die ewige saligheid.
Uiteindelik word hierdie mense dan deur God "verheerlik". Dit verwys na die opstanding uit die dood, wanneer hulle
verlossing in Christus tot volmaakte afronding sal kom. Die lang proses van redding kulmineer dan in volkome
gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (vgl.1Jhn 3:2-3).
Die 'profetiese verlede tyd' word, soos hier, gebruik om te beklemtoon dat iets, hoewel dit nog nie plaasgevind het nie,
in God se ewige raadsplan vasgelê is en daarom verseker sal gebeur. Só seker sal dit gebeur, dat dit so goed as
reeds gebeur het.
TEOLOGIESE IMPLIKASIES
Paulus se sinsbou maak dit duidelik dat hierdie vyf elemente van verlossing soos die skakels van 'n onbreekbare ketting
is: diegene vir wie God vantevore geken het, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word vantevore
verordineer; en hulle wat vantevore verordineer is, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word geroep, ens.
Hieruit volg 'n paar waarhede van onberekenbare teologiese belang - waarhede wat orals in die Skrif geleer word.
As God Drie-enig 'n mens verlos, is dit iets wat HY doen; én soewerein inisieer en deurvoer. Soos reeds gesê, is daar
wel elemente in 'n persoon se verlossing waarby hy volledig betrokke is, maar hierdie vyf handelinge van God vorm die
raamwerk waarbinne al die res plaasvind.
In God se verlossingswerk gaan dit om spesifieke mense.
'n Uitverkorene se verlossing is 'n ewige verlossing: dit strek vanuit die ewige verlede en vloei in die ewige toekoms in.
So 'n verlossing is onverbreekbaar geïntegreerd: as jy dit hoegenaamd ontvang, ontvang jy alles, sonder uitsondering.
Met 'alles' word al die elemente van die 'heilsorde' bedoel: uitverkiesing (as 'n sambreelterm), roeping en wedergeboorte,
geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, volharding en heerlikmaking. Om dit in Engels te stel: "It
is a package deal - if you have it at all, you have it all"!
TWEE SOORTE WAARHEID
Seer seker beleef ons die realiteite van ons eie geloofslewe en van wat om ons aangaan meestal anders. Ware
gelowiges is pynlik bewus van die gebrokenheid van hulle lewens en van die stryd om op die pad te volhard. En as ons
om ons kyk, hoe mense links en regs 'tot bekering kom', net om na verloop van tyd weer terug te val in
wêreldgelykvormigheid - dan maak die gelykenis van die saaier veel meer sin as die verse waarna ons kyk.
Dit is uiters belangrik om te begryp dat Skrifwaarheid op twee vlakke aan ons gegee word. Enersyds is daar
'belewingswaarheid' - soos ons dit beleef. Andersyds is daar 'wesenswaarheid' - dit wat regtig 'agter God se skerms
gebeur'. En hoewel lg. dikwels strydig met die gelowige se belewing is, aanvaar hy dit in die geloof, wetende dat die
twee vlakke van waarheid mekaar nie uitsluit nie - omdat beide deur die Heilige Gees geopenbaar is.
'n Alledaagse voorbeeld mag help. As ons sê, 'die son gaan onder', is dit 'n belewingswaarheid. Tog weet ons 'die
storie agter die storie', die wesenswaarheid, is eintlik dat die aardbol roteer en die horison tussen my en die son
inskuif.
Die gelykenis van die saaier is belewingswaarheid; Rom 8:28-30 is wesenswaarheid. Trouens, die eerste elf
hoofstukke van Romeine (soos ook die eerste gedeeltes van die meeste van sy ander briewe) is grootliks
wesenswaarheid. Dis die wonderlike geheimenisse van God se raadsplan en heil wat Hy met Sy kinders deel om hulle
tot oorstelpte aanbidding te dring en tot dankbare gehoorsaamheid te bemoedig.
Waarom sukkel Christene tog so om God se openbaring oor Sy uitverkiesingsliefde te glo? Ander wesenswaarhede,
dikwels op dieselfde bladsy geskryf en wat eweneens net in geloof aangeneem kan word (soos dat God hulle
regverdig verklaar op grond van Sy Seun se Middelaarswerk), aanvaar hulle dan sonder meer!
PASTORALE EFFEKTE
Sodra 'n gelowige die geïntegreerdheid van God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir
homself toe-eien, bring dit 'n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie.
Hy (of sy) weet dat die voortgang en ontwikkeling van sy lewe veilig verpak is in God se ewige en onfrustreerbare
raadsplan. Rom 8:31-39 word dan vir hom nie net objektiewe waarheid nie, maar inderdaad belewingswerklikheid.
Níks, dit weet hy, kan hom van God se liefde skei nie!
Hierdie vertroostende waarheid maak mens vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag - in
dankbare vrede en liefdesvertroue volgens Sy wil, soos duidelik in die Bybel beskryf.
Soveel Christene is gedurig krampagtig op soek na 'die Here se wil' (gewoonlik buite die Skrif om), omdat hulle bang is
hulle sal 'God se wil vir hul lewens' mis en teëspoed kry as hulle nie in die 'sentrum van God se wil', die 'veiligste plek',
bly nie. Watter vrymaking hou gelowige omhelsing van Rom 8:28-30 nie vir hulle in nie!
Maar, mag sommige nou wonder, sal dit nie 'n traak-my-nie-agtigheid oor gehoorsaamheid en volharding veroorsaak
nie? Sal mense nie dan maar terugsit in die waan dat God alles moet doen nie?
Die ervaring van derduisende deur die eeue is presies die teenoorgestelde. Waarhede soos dié van ons verse sus nie
wáre gelowiges nie, dit lanseer hulle! Dis immers waarom die Heilige Gees dit geopenbaar het. Baseer die apostel sy
oproep tot heilige toewyding aan die Here nie júís op "die groot ontferming van God" nie? Is 'vernuwing van denke' nie
júís die sleutel tot 'n lewe volgens God se wil nie? (Rom 12:1-2)
Leser, het jy die Here waarlik lief? Bevestig jou lewe van daaglikse, intelligente, bewustelike en verantwoordelike
gehoorsaamheid dit? Werk jy jou eie heil uit - "met vrees en bewing"? Weet dan, dis omdat God in jou "werk om te wil
sowel as om te werk na Sy welbehae" (Fil 2:12-13). En Hy doen dit, omdat Hy jou van ewigheid af liefhet en sal toesien
dat jy in gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun tot in ewigheid deel van Sy huisgesin sal wees!
Dien dan die Here met 'n onverdeelde hart!
Die Christen en gehoorsaamheid
Deel 1 - Twee dodelike vyande
'N TEENSTRYDIGHEID?
"Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof, sonder die werke van die wet." (Rom 3:28)
".... ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus ...." (Gal 2:16)
"Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?" (Jak 2:24)
Is Paulus en Jakobus in stryd met mekaar? Is daar leertwis in die vroeë kerk? Weerspreek die Bybel homself?
Die antwoord is 'n besliste nee! Dit mag so lyk, maar as mens verstaan waaroor dit hier gaan, laat dit jou in
verwondering oor die balanse en rykdomme van die Skrifopenbaring.
NIE VYANDE NIE, MAAR BONDGENOTE
Paulus en Jakobus verskil nie van mekaar nie, maar veg rug aan rug teen twee dodelike vyande wat die kerk van verskillende kante af aanval. Dis 'n aanslag wat steeds voortduur en is vandag so intens en meedoënloos soos ooit. Beide vyande is dwaalleringe met afwykende standpunte oor die vraagstuk van goeie werke en gehoorsaamheid in 'n Christen se lewe.
Die een wil werke by die verdienste van Christus voeg as grond van redding. Die ander argumenteer dat, aangesien Christus 'n volmaakte soenoffer gebring het, goeie werke, al dan nie, in beginsel nie ter sake is in 'n persoon se redding nie. Die Bybel stel dit egter onomwonde: beide leringe is verdoemende leuens!
Paulus beveg wettiesisme. Jakobus het dit teen wetteloosheid (ook 'losbandigheid' of 'antinomianisme' genoem). Beide is dodelike dwalinge waarteen elke Christen moet waak.
WETTIESISME
In die vroeë kerk is hierdie dwaling veral deur die Judaïste gedra. Hulle was Joodse 'Christene' wat gepreek het dat mense gered word deur geloof in Christus plus werke (die seremoniële wet, veral die besnydenis).
Meermale, veral in Galasiërs, bestry Paulus hulle met alles in sy vermoë. Nee, sê hy, redding kom deur geloof alléén! Christus se verdienste alléén is die grond vir regverdigmaking. Enige werke, van watter aard ook al, wat as addisionele verdienste noodsaaklik geag word vir redding, is niks minder nie as 'n mosie van wantroue in die algenoegsaamheid van Jesus Christus se versoeningswerk.
Wettiesisme is 'n veel ernstiger dwaling as wat meeste dink. Luister wat skryf die apostel: "Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek (lett. 'geregverdig') wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur." (Gal 5:2-4. Vgl. ook Rom 4:4-5; 11:6)
Hierdie is skrikwekkende woorde! Let op, dit gaan om meer as die onnodigheid om iets by die volmaakte werk van Christus te voeg; die apostel leer hier, onder inspirasie van die Heilige Gees, dat ware wettiesisme diskwalifiserend en verdoemend is.
Waarom is hierdie saak so belangrik in die oë van die Here? Die antwoord is eenvoudig: ons dien 'n jaloerse God. Hy en Hy alleen sal alle roem kry vir elke sondaar wat gered word. Jesus Christus is óf volkome alleen-redder, óf Hy red gladnie. Geen mens sal ooit 'n aandeel in sy eie saligheid hê nie; nie 'n greintjie nie. God deel Sy lof met niemand nie!
Presies hierdie saak het aan die hart van die sestiende eeuse Reformasie gelê. Rome leer geloof plus die sakramente (en 'n rits ander dinge) - en dis niks anders nie as geloof plus werke. Daarenteen het die reformatore die Woord van God skaamteloos gepreek: regverdiging is deur geloof alléén. Sola fides (geloof alleen) was dan ook een van hulle wekroepe.
Maar ten spyte daarvan loop wettiesisme steeds breëbors orals in die kerk rond. Weliswaar neem die verdienste-trapmeul 'n duisend gestaltes aan, maar die fundamentele dwaling bly deurgaans dat dit menslike meriete wil voeg by Christus se volmaakte middelaarswerk. Gewoonlik lyk dit in vroeë stadiums van ontwikkeling baie regsinnig, omdat gewerk word met
dinge wat uitdruklike Bybelse opdragte is. Maar die ywer kom nie uit harte vol dankbaarheid vir God se vrye verlossingsgenade nie. Na 'n subtiele begin, verwring wettiesisme egter algaande - tot 'n mindere of meerdere mate. Soms ontaard dit selfs tot groteske en kultiese afmetings.
Hoe diagnoseer mens dit; watter simptome is tipies?
Eerstens is die wettiesis se godsdiens op die uiterlike ingestel. Deurgaans, maar veral in die Nuwe Testament, het die Bybel 'n baie sterk klem daarop dat gehoorsaamheid slegs vir God aanvaarbaar is indien dit uit die hart kom (vgl. Mat 5:21 e.vv.).
Omdat die wettiesis egter nie 'n wedergebore hart het nie, weet hy nie wat dit beteken om God 'in gees en in waarheid' te dien nie (Jhn 4:21-24). Hy kom dus nooit verder as uiterlike godsdienstigheid nie. Die vórm is waarom dit vir hom gaan, maar vir die innerlike krag van ware redding is hy 'n vreemdeling. Uiterlik kan hy indrukwekkend vroom voorkom - hy klim immers 'n leer hemel toe - maar innerlik is hy geestelik dood.
Tweedens vul die wettiesis die morele wet van God aan. Sonder die verligtende werk van die Gees kan hy nie die innerlike karakter, omvang en diepgang van God se Wet verstaan nie. Omdat hy met die oog op die dag van afrekening besig is met die opgaar van godsdienstige verdienste, bevredig dit hom nie. Méér moet tog nodig wees as net 'n klompie 'onthoudings', is sy argument. En net hier begin hy sy eie uitdrukkings van gehoorsaamheid ontwikkel. Hy verval in 'n eiewillige godsdiens en hou hom besig met dit wat God nooit beveel het nie. Elke geslag en kultuur, elke individu en groep het eie dinge. Soms is dit negatief: 'Raak nie! Eet nie!' (Kol 2:21); soms positief:
'Doen dit! Doen dat!' Gou-gou verdring dit Christus as fokuspunt van ywer. En feitlik altyd word dit voorwaardes, sjibollette (Rig
12:6), vir aanvaarding en toelating in 'n bepaalde kring.
WETTELOOSHEID
Hierdie dwaling is deur verskeie groepe in die vroeë kerk gedra. Hulle argument was heel eenvoudig en klink waterdig: as God in genade, op grond van Jesus Christus se volmaakte versoeningswerk, sondaars regverdig verklaar sónder enige verdienste aan hulle kant, is goeie werke, gehoorsaamheid en 'n heilige lewe op sigself mos irrelevant in die reddingsproses. Net geloof maak saak. 1
Onvermydelik lei so 'n beskouing spoedig tot etiese slordigheid in Christene se lewens (selfs tot wêreldgelykvormigheid en sonde tot 'n skokkende mate). Dis waarteen Jakobus dit het. Dis reg, sê hy, geloof alleen is nodig. Maar daar is geloof én geloof. Geloof sónder werke is dooie geloof. So 'n geloof is vals, dit kan niemand red nie. Selfs duiwels het dit. Saligmakende geloof, daarenteen, gaan altyd gepaard met goeie werke.
As wettiesisme vandag duisende vel, vel wetteloosheid tienduisende. Verwaarlosing van die noodsaak van heilige gehoorsaamheid - en volharding daarin tot die einde toe - is nie maar 'n onskuldige mistasting nie; dit is dodelike dwaling!
Sonder 'n heilige lewe, sê die Bybel, sal niemand God sien nie (Heb 12:14).
Soos wettiesisme, manifesteer wetteloosheid op tipiese maniere.
Eerstens word dit gesien in die beskouing dat die Tien Gebooie irrelevant is vir ons dag, omdat Christene 'onder genade is en nie onder die wet nie'. Dit lei dan tot sg. 'situasie-etiek', wat liefde as die enigste etiese beginsel sien. Solank jy dus in liefde optree, is enigiets wat jy doen reg. Of dit in lyn met die Tien Gebooie is, is nie régtig ter sake nie. Die probleem met hierdie beskouing is dat elkeen maar self moet besluit wat liefde is en hoe dit tot uitdrukking kom. God se Woord verlos ons egter uit hierdie moeras van subjektivisme en willekeur deur te leer dat die liefde ook vir die Nuwe Testamentiese Christen in 'tien kanale' vloei (Mat 5:17 e. vv.; Mrk 12:28 e. vv.; 1Jhn 5:2-3).
Tweedens word dit gesien in 'n 'goedkoop evangelie' wat mense van redding verseker bloot op grond daarvan dat hulle 'Jesus aangeneem' het - of daar nou vrug volg of nie. Omdat jy jóú kant gebring het, sê hierdie 'ander evangelie', sal die Here jou red. Natuurlik is dit goed, word gesê, as jy daarna gehoorsaam en Geesvervuld lewe. Maar indien nie, is dit nie noodwendig diskwalifiserend nie - jy is net 'n stóút kind, 'n 'vleeslike Christen'. Hierdie lering se 'eenmaal gered, altyd gered', verskil wesentlik van die Bybelse leer van die volharding van die heiliges - wat júís beklemtoon dat elkeen wat waarlik gered is, heilig
volhard tot die einde toe.
DIE WORTELPROBLEEM VAN BEIDE DWALINGE
Waar lê die wortelprobleem van wettiesisme en wetteloosheid presies? Daar is immers baie Skrifuitsprake wat beide strominge ter ondersteuning van hul standpunte aanhaal. Is daar nie tog maar 'n diep teenstrydigheid wat regdeur die Bybel loop nie?
Die probleem met hierdie mistastings is dat die verhouding tussen regverdigmaking en heiligmaking nie verstaan word nie.
Wettiesisme verwar dit, terwyl dit noodsaaklik is om te onthou dat dit twee verskillende sake is. Wetteloosheid skei dit, terwyl dit onlosmaaklik verbonde is.
Dis noodsaaklik dat die Christen die begrippe 'regverdigmaking' en 'heiligmaking' goed verstaan en weet wat die verband tussen hulle is.
REGVERDIGMAKING
Regverdigmaking is 'n juridiese handeling van God (en van Hom alleen) met die doel om sondaars in terme van Sy volmaakte geregtigheid te laat kwalifiseer vir die ewige saligheid. Dit geld slegs vir diegene wat in Jesus Christus glo - wat Hom m.a.w. vanuit hulle eie geestelike bankrotskap in algehele afhanklikheid as enigste en persoonlike Saligmaker omhels en vashou [Sien AH5]. Dit berus net op wat Christus gedoen het en die betrokke persoon se godsdienstige meriete, al dan nie, speel geen rol nie (geloof is net die hande waarmee God se gawe vasgegryp word).
Aan die hart van regverdigmaking (daarom aan die hart van die evangelie en van verlossing in Christus) lê twee beginsels, oftewel begrippe.
Die eerste is 'plaasvervanging'. Jesus Christus het as ware mens gekom om as Hoof van God se nuwe skepping, in die besonder die nuwe mensheid, voor God te staan. As sulks verteenwoordig Hy dan plaasvervangend, as die 'laaste Adam', die 'tweede mens' (1Kor 15:45-47), diegene wat deur geloof met Hom verenig is. Redding is dus om oorgebring te word vanuit die gevalle skepping in Adam, tot die nuwe skepping in Christus (Rom 5:12-21).
Die Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik gestel: "There are but two men standing before God, Adam and Christ, and these two men have all other men hanging on their girdles."
'Toerekening' is die tweede begrip. So fundamenteel is dit dat Rom 4 dit 11 keer gebruik. Dis 'n boekhou-begrip en dui op 'n inskrywing in 'n rekeningboek; dus om te debiteer of te krediteer. Dit het te doen met die twee mees basiese probleme van die sondaarmens. Enersyds het sy sonde hom in skuld by God gedompel. Diegene wat glo se skuld word egter aan Christus toegereken (Hy word dus daarmee gedebiteer). Die groottotaal van hierdie skuld betaal Hy natuurlik in Sy vernedering, maar veral op Golgota. Andersyds moet die mens aan God se volmaakte geregtigheid voldoen, dus aan die eise van die Wet, om die ewige lewe te beërf. Hiervoor maak Christus se middelaarswerk ook voorsiening. As mens op aarde het Hy in volmaakte gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader geleef. En hierdie gehoorsaamheid, oftewel geregtigheid, word dan aan gelowiges toegereken (gekrediteer) - sodat hulle in 'God se boeke' skatryk is aan geregtigheid en as sulks kwalifiseer om van die boom van die lewe te eet (Gen 2:9; 3:22, 24; Opg 2:7; 22:2, 14).
Regverdigmaking is dus 'n dubbelkuur! Dis 'n dubbele inskrywing in God se boeke wanneer iemand glo! Christus word gedebiteer met die sondaar se skuld; en die sondaar word gekrediteer met Sy betaling. Dis vryspraak. Maar daar is meer! En dit is eintlik waar die klem van regverdigmaking lê. Ter wille van die nodige 'geregtigheidskapitaal' wat nodig is om vir ewig in God se heilige teenwoordigheid te leef, word so 'n sondaar nog verder gekrediteer vanuit die onuitputlike skat van sy Verlosser se volmaakte gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader. Gister onder God se toorn; vandag die status van volkome wetsgehoorsaamheid in God se boeke!
Leser in Christus, vergeet dit nooit: jou redding lê in die eerste instansie buite jouself - in God se boeke!
HEILIGMAKING
Heiligmaking is 'n genadewerk van God in elkeen wat Hy regverdig verklaar het. Dit het ten doel om die beeld van Jesus
Christus in hom of haar te vorm. Dit is 'n progressiewe proses en gaan lewenslank voort.
Anders as in regverdigmaking, speel die gelowige 'n volledig-aktiewe rol in sy eie heiligmaking - bewustelik, inspannend en
lewenslank-volhardend. 'n Vers wat hierdie dubbele betrokkenheid, dié van God en dié van die mens, pragtig na vore bring, is
Fil 2:12-13: " .... werk julle eie heil uit met vrees en bewing, want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na
Sy welbehae." (OAV).
ONDERSKEI - SONDER OM TE SKEI
As die verhouding tussen regverdigmaking en heiligmaking nie reg verstaan word nie, lei dit tot allerlei teologiese en praktiese ellendes.
Waarin verskil die twee begrippe? Waarom móét dit onderskei word? Wat verstaan wettiesisme nie?
Regverdigmaking het te doen met objektiewe toerekening (my skuld aan Christus, Sy geregtigheid aan my).
Heiligmaking het te doen met subjektiewe toebedeling (die vorming van Christus se beeld in my).
Die geregtigheid wat ek deur regverdigmaking verkry, is nie my eie nie, maar Christus s'n (en daarom is dit volmaak).
Die geregtigheid wat ek deur heiligmaking verkry, hoewel deur die Heilige Gees gewerk, is inderdaad my eie (en daarom
onvolmaak).
In regverdigmaking is daar geen plek vir my eie werke nie. In heiligmaking is my eie werke sentraal en onmisbaar - en daarom beveel die Woord ons om te hardloop, te veg, te waak, te arbei, te vlug, te volhard ens.
Regverdigmaking is 'n afgehandelde en volmaakte werk (tot in ewigheid sal ek nie méér regverdig wees as met die eerste oomblik van geloof nie). Heiligmaking is altyd relatief en onvolmaak. Dis weliswaar progressief-toenemend, maar kom eers met heerlikmaking tot vervolmaking.
Regverdigmaking het te doen met my objektiewe juridiese status voor God; heiligmaking met my subjektiewe morele toestand.
Regverdigmaking gee my die reg tot die ewige heerlikheid; heiligmaking maak my daarvoor gereed en is, as sulks, die watermerk van ware redding.
Wat het regverdigmaking en heiligmaking gemeen? Waarom mag dit nóóit geskei word nie? Wat verstaan wetteloosheid nie?
Beide vloei uit God se genade in Christus (1Kor 1:30).
Beide is onmisbaar deel van God se geïntegreerde verlossingswerk in my lewe. [Sien Herout No1]
Beide sal dus altyd saam teenwoordig wees in elkeen wat werklik gered is. 'If you have it at all, you have it all'.
KONKLUSIE
Die ware Christen loop op die snykant van 'n mes, met wettiesisme en wetteloosheid as afgronde weerskante!
Dis teen hierdie twee afgronde wat die apostels met soveel dringendheid waarsku: Paulus teen wettiesisme, wat leer dat redding deur geloof plus werke kom; Jakobus teen wetteloosheid, wat leer dat redding selfs deur 'n geloof sonder werke kom.
Laat ons dit ten slotte positief stel. Paulus antwoord die vraag, 'hoe kry ek redding?'. Jakobus antwoord die vraag, 'hoe kom redding tot uitdrukking in iemand se lewe, hoe word dit herken?'.
voetnotas
1 Sommige het selfs geredeneer dat, as God se genmade beklemtoon word as Hy sonde vergewe, word Hy mos des te meer verheerlik hoe meer
sonde die Christen doen! Paulus vernietig hierdie diaboliese argument in Romeine 6.
AH0002 Die Christen en gehoorsaamheid Page 4 of
© 2025 Montana Bybelskool