Slide Background
Bybelskool Lesings

AH0001  Wat elke Christen moet weet (18/5/2009)


'n Bespreking van Romeine 8:28-30


FONDAMENTSTENE VAN DIE GELOOF


Dit is opvallend dat die apostel Paulus, as hy vir die gemeentes bid, soos klokslag vir Geesgewerkte begrip en geheiligde
kennis bid (Efe 1:17-18; Fil 1:9-10; Kol 1:9-10). En as hy ná die fundamentele lering van die eerste elf hoofstukke, in Romeine
12 begin met sy praktiese oproepe, "op grond van die groot ontferming van God", beklemtoon hy onmiddellik die absolute
noodsaaklikheid van waarheidsbegrip vir 'n lewe wat God behaag (Rom 12:2). 'Ware waarheid' is nie 'n randsaak nie, dit is
lewensbelangrik vir 'n godvrugtige lewe en ware kerkwees. Dit is waarom die apostels, naas sonde, niks met meer felheid
weerstaan het as dwaalleer nie.


Die Skrifgedeelte onder ons vergrootglas begin dus uiters betekenisvol: "Ons weet ...". Hy aanvaar elke Christen weet en
verstaan die dinge waarvan hy praat. En inderdaad is die waarhede wat in ekstrakvorm in hierdie drie verse saamgeknoop is,
deel van die ABC van die Christelike geloof - nie omdat dit so maklik is nie, maar omdat dit so fundamenteel is. Hy in wie se
hart dit gegraveer is, het greep op van die belangrikste hoekpenne van God se heilsopenbaring. Hy het 'n lopersleutel wat een
na die ander Skrifgedeelte oopsluit. Hy het 'n kompas wat keer op keer koers gee deur die doolhof van hedendaagse leringe.
Hy het 'n onuitputlike bron van innerlike sekuriteit, vrede en vreugde wat hom deur 'n duisend storms dra.


Dr. Martyn Lloyd-Jones sê oor hierdie verse: "We are considering here one of the most remarkable statements that even this
apostle ever made. It is also one of the most comforting statements in the whole range of Scripture. We are surely entitled to
say that in respect of the statement of exalted doctrine there is really nothing higher than this. Here is ultimate doctrine." (The
Final Perseverance of the Saints, p.159). Hy gaan dan voort en wy 208 bladsye aan die behandeling van verse 28-30 (17 van
sy preke op skrif).


DIE KONTEKS
In hierdie hoofstuk wil die apostel diegene wat deur geloof geregverdig is, verseker van hulle uiteindelike redding. Al is daar
dus nog baie worstelinge met sonde (7:7 e.vv.) en baie lyding (8:17 e.vv.), moet hulle weet dat die almagtige en ewigsoewereine
God self onfeilbaar besig is om hulle verlossing in hulle uit te werk. Daar is dus hoegenaamd níks wat hulle tot in
ewigheid van Sy liefde kan skei nie. Hierin, in die finale analise, lê hulle sekuriteit - en nie in hulle eie vermoëns nie.
Dit is waarom Paulus, wanneer hy in v. 28-30 vyf van die hoofelemente van die reddingsproses noem (hieronder een vir een
behandel), hom beperk tot dinge wat God alléén doen. [Daar is uiteraard ook elemente van die reddingsproses waarby die
mens wel aktief betrokke is (soos geloof, bekering, heiligmaking, volharding). Maar daarin is op sigself geen grond vir
sekuriteit te vind nie, aangesien dit vanweë die mens se betrokkenheid altyd gebrekkig en feilbaar is. Gevolglik werk die
apostel nie nou daarmee nie. Nadat hy egter die spyker van 'die groot ontferming van God' behoorlik ingeslaan het, laat hy wel
vanaf Hoofstuk 12 die aksent op die mens se verantwoordelikheid en rol val.]


STAP VIR STAP DEUR DIE VERSE
Die gelowige se hele lewe, "alles", moet gesien word in die lig van wat die apostel hier sê. Dit geld dus alles wat oor sy
pad kom, sonder uitsondering - ook die lyding en gebrokenheid (v. 17 e.vv.) wat sy lewe nou nog kenmerk.


Die Grieks van "ten goede meewerk" dui op 'n samewerking 'na die goeie toe'. Wat is hierdie goeie? Vers 29 is duidelik:
gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (Vgl. Heb 2:10 e.vv.). God is besig om vir Homself 'n huisgesin te skep en
Hy gebruik alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. Daar is dus planmatigheid, koers,
bestemming in die lewe van elkeen wat deel het aan hierdie proses! En vanuit die konteks (v. 31 e.vv.) is dit duidelik dat
die Here God self sal toesien dat dit uiteindelik volmaak-suksesvol uitwerk.

Maar dit geld nie van alle mense nie. Dit is net waar van diegene wat (vir) "God liefhet".

Wat beteken dit om Hom lief te hê? Hoe kom dit tot uitdrukking? 1Jhn 5:3 gee die antwoord: liefde vir God is om Sy
gebooie te bewaar. En om Jesus lief te hê, beteken ook presies dieselfde (Jhn 14:21, 23-24; 15:9-10).

Waarom het net sekere mense Hom lief? Omdat hulle "volgens Sy besluit geroep" is! Hier is géén sprake van menslike
inisiatief, willekeur of meriete nie. Agter diegene wie se lewens gekenmerk word deur innige verlange, inspanning,
worsteling en trane om hulle liefde vir die Here in gehoorsaamheid tot uitdrukking te bring, sit die uitverkiesende en
herskeppende genade van 'n soewereine God.

Vers 29 begin met "want" (Gr.). Hy motiveer dus sy stelling in die vorige vers. Waarom is v. 28 van hulle waar? Omdat
hulle opgeneem is in God se ewige verlossingsplan! En oor hierdie plan gaan die apostel nou in v. 29-30 wonderlike
dinge sê.

Die mense van wie hier gepraat word, is "vantevore geken" (die NAV se "lank tevore verkies" is 'n parafrase, maar
teologies in orde). Die idee is nie dat God vooraf bloot van hulle geweet het nie, maar dat Hy hulle liefgehad het en hulle
dus uitgekies het - dat Hy 'Sy hart op hulle gesit het'.

Om te ken' dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gen 4:1: "die mens het sy vrou,
Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Eks 2:25; Amo 3:2; Jer 1:5; Mat 7:22-23 (Jesus sê nie
Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis 'te veel' van hulle geweet); 1Kor 8:3; 2Tim 2:19. Vgl. Jhn 17:3.
Die bepaalde begrip, 'vooraf ken', word ook op vier ander plekke in die N.T. met God as subjek gebruik: Han 2:23 en
1Pet 1:20 (Jesus Christus as objek); Rom 11:2 (Jode as objek); 1Pet 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit
meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra - dit dui op liefhê, op verkiesing.

Nie alleen het God hierdie mense lief nie, Hy het hulle ook "verordineer" of "bestem". Hy het dus 'n plan met hulle. Die
Engelse predestine (NIV) vat die idee goed vas: om 'n 'destinasie' of bestemming vooraf vas te maak.

Hierdie eindbestemming word dan eksplisiet deur die apostel genoem: "om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy
Seun".

Tydens hulle lewe word hulle dan deur God "geroep". Hoewel die Bybel soms van 'n 'algemene roeping' praat as dit
verwys na die Evangelie-uitnodiging wat tot alle mense gerig word (vgl. Mat 20:16; 22:14), dui 'roeping' in die Nuwe
Testament meestal, soos ook hier, op 'effektiewe roeping'. Dit is God se skeppende en lewendmakende spreke wat die
wedergeboorte in 'n sondaar bewerkstellig en hom so uit sy geestelike dood opwek tot die ewige lewe in Christus.
Presies hier begin die toepassing, die verwerkliking van redding in 'n sondaar se lewe. Só skep God immers altyd - deur
sy gesagvolle spreke. Reeds in Gen 1 kom dit nege maal soos 'n refrein: "God het gesê: Laat ... ". Vgl. ook Rom 4:17.
Ander Skrifgedeeltes waar 'roeping' so gebruik word, is o.a.: Rom 1:6-7; 1Kor 1:9,26; Gal 1:15; Efe 1:18; Fil 3:14; 2Tim
1:8-9; Heb 3:1; 2Pet 1:10.

Hierdie lewendmakende werk van God geskied, wanneer en soos dit Hom behaag, deur die verkondiging van die
Evangelie (Rom 1:16; 10:13-15; 1Kor 1:21; 2Tes 2:14). Die 'effektiewe roeping' werk dus deur die 'algemene roeping' -
deur die lewende (1Pet 1:23) waarheidswoord (Jak 1:18).
Geestelik lewend gemaak, stel hierdie mense nou hulle geloofsvertroue in Christus en word hulle deur God
"geregverdig" (die NAV se "vrygespreek" laat nie reg geskied aan die ryk en positiewe inhoud van hierdie begrip nie,
soos hieronder sal blyk).

Regverdiging (ook regverdigmaking genoem) moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat die gevalle mens
'n dubbele probleem voor God het. 'n 'Dubbelkuur' is dus nodig om 'n sondaar te red. Enersyds moet die vloek van sy
skuld voor God uitgedelg word; andersyds moet sy onvermoë om God te behaag, aangespreek word.
Regverdiging is dus 'n dubbele juridiese uitspraak van God t.o.v. alle mense wat waarlik in Christus as Saligmaker glo.

[As uitvloeisel van God se lewendmakende roeping, is selfs hierdie geloof 'n gawe van Hom (Efe 2:8-9; Fil 1:29; 2Pet
1:1)]. Agter hierdie uitspraak lê die beginsels van plaasvervanging en toerekening (Vgl. Rom 4 en 5). Die Seun van
God, as Hoof van die nuwe mensheid, het in die plek van God se uitverkorenes kom staan. Negatief is hulle
sondeskuld aan Hom toegereken, 'teen Sy rekening afgeskryf'. Hy is dus met hulle skuld 'gedebiteer'. Dit is egter nie al
nie! Positief word Sy onuitputlike rykdom (Sy volmaakte geregtigheid, Sy gehoorsaamheid aan die Vader) aan hulle
toegereken, 'na hulle rekening oorgeboek'. Hulle word dus met Sy gehoorsaamheid 'gekrediteer'. Regverdiging is iets
wat 'in God se boeke' gebeur!

As God hierdie opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun straf, sterf Hy daaronder - maar in die proses bewerkstellig Hy
vryspraak vir sondaars, sodat hulle onskuldig voor God staan (Mat 20:28; Rom 3:25; 2Kor 5:21; Gal 3:13; Kol 2:13-15;
1Tim 2:5-6; 1Pet 2:24). Dis egter net die helfte van die wonder van regverdiging. Christus se toegerekende
geregtigheid maak óók dat hulle in God se boeke die status het van mense wat Sy wet volkome gehoorsaam het (Rom
1:16-17; 3:21-28; 8:33-34; 10:3-4; Fil 3:9) - en wat, as sulks, kwalifiseer vir die ewige lewe!

Jesus se passiewe gehoorsaamheid red sondaars dus van die ewige verdoemenis; en Sy aktiewe gehoorsaamheid
verwerf vir hulle die ewige saligheid.


Uiteindelik word hierdie mense dan deur God "verheerlik". Dit verwys na die opstanding uit die dood, wanneer hulle
verlossing in Christus tot volmaakte afronding sal kom. Die lang proses van redding kulmineer dan in volkome
gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (vgl.1Jhn 3:2-3).

Die 'profetiese verlede tyd' word, soos hier, gebruik om te beklemtoon dat iets, hoewel dit nog nie plaasgevind het nie,
in God se ewige raadsplan vasgelê is en daarom verseker sal gebeur. Só seker sal dit gebeur, dat dit so goed as
reeds gebeur het.


TEOLOGIESE IMPLIKASIES
Paulus se sinsbou maak dit duidelik dat hierdie vyf elemente van verlossing soos die skakels van 'n onbreekbare ketting
is: diegene vir wie God vantevore geken het, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word vantevore
verordineer; en hulle wat vantevore verordineer is, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word geroep, ens.
Hieruit volg 'n paar waarhede van onberekenbare teologiese belang - waarhede wat orals in die Skrif geleer word.

As God Drie-enig 'n mens verlos, is dit iets wat HY doen; én soewerein inisieer en deurvoer. Soos reeds gesê, is daar
wel elemente in 'n persoon se verlossing waarby hy volledig betrokke is, maar hierdie vyf handelinge van God vorm die
raamwerk waarbinne al die res plaasvind.

In God se verlossingswerk gaan dit om spesifieke mense.

'n Uitverkorene se verlossing is 'n ewige verlossing: dit strek vanuit die ewige verlede en vloei in die ewige toekoms in.

So 'n verlossing is onverbreekbaar geïntegreerd: as jy dit hoegenaamd ontvang, ontvang jy alles, sonder uitsondering.
Met 'alles' word al die elemente van die 'heilsorde' bedoel: uitverkiesing (as 'n sambreelterm), roeping en wedergeboorte,
geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, volharding en heerlikmaking. Om dit in Engels te stel: "It
is a package deal - if you have it at all, you have it all"!


TWEE SOORTE WAARHEID
Seer seker beleef ons die realiteite van ons eie geloofslewe en van wat om ons aangaan meestal anders. Ware
gelowiges is pynlik bewus van die gebrokenheid van hulle lewens en van die stryd om op die pad te volhard. En as ons
om ons kyk, hoe mense links en regs 'tot bekering kom', net om na verloop van tyd weer terug te val in
wêreldgelykvormigheid - dan maak die gelykenis van die saaier veel meer sin as die verse waarna ons kyk.

Dit is uiters belangrik om te begryp dat Skrifwaarheid op twee vlakke aan ons gegee word. Enersyds is daar
'belewingswaarheid' - soos ons dit beleef. Andersyds is daar 'wesenswaarheid' - dit wat regtig 'agter God se skerms
gebeur'. En hoewel lg. dikwels strydig met die gelowige se belewing is, aanvaar hy dit in die geloof, wetende dat die
twee vlakke van waarheid mekaar nie uitsluit nie - omdat beide deur die Heilige Gees geopenbaar is.

'n Alledaagse voorbeeld mag help. As ons sê, 'die son gaan onder', is dit 'n belewingswaarheid. Tog weet ons 'die
storie agter die storie', die wesenswaarheid, is eintlik dat die aardbol roteer en die horison tussen my en die son
inskuif.

Die gelykenis van die saaier is belewingswaarheid; Rom 8:28-30 is wesenswaarheid. Trouens, die eerste elf
hoofstukke van Romeine (soos ook die eerste gedeeltes van die meeste van sy ander briewe) is grootliks
wesenswaarheid. Dis die wonderlike geheimenisse van God se raadsplan en heil wat Hy met Sy kinders deel om hulle
tot oorstelpte aanbidding te dring en tot dankbare gehoorsaamheid te bemoedig.

Waarom sukkel Christene tog so om God se openbaring oor Sy uitverkiesingsliefde te glo? Ander wesenswaarhede,
dikwels op dieselfde bladsy geskryf en wat eweneens net in geloof aangeneem kan word (soos dat God hulle
regverdig verklaar op grond van Sy Seun se Middelaarswerk), aanvaar hulle dan sonder meer!


PASTORALE EFFEKTE
Sodra 'n gelowige die geïntegreerdheid van God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir
homself toe-eien, bring dit 'n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie.

Hy (of sy) weet dat die voortgang en ontwikkeling van sy lewe veilig verpak is in God se ewige en onfrustreerbare
raadsplan. Rom 8:31-39 word dan vir hom nie net objektiewe waarheid nie, maar inderdaad belewingswerklikheid.
Níks, dit weet hy, kan hom van God se liefde skei nie!

Hierdie vertroostende waarheid maak mens vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag - in
dankbare vrede en liefdesvertroue volgens Sy wil, soos duidelik in die Bybel beskryf.

Soveel Christene is gedurig krampagtig op soek na 'die Here se wil' (gewoonlik buite die Skrif om), omdat hulle bang is
hulle sal 'God se wil vir hul lewens' mis en teëspoed kry as hulle nie in die 'sentrum van God se wil', die 'veiligste plek',
bly nie. Watter vrymaking hou gelowige omhelsing van Rom 8:28-30 nie vir hulle in nie!

Maar, mag sommige nou wonder, sal dit nie 'n traak-my-nie-agtigheid oor gehoorsaamheid en volharding veroorsaak
nie? Sal mense nie dan maar terugsit in die waan dat God alles moet doen nie?

Die ervaring van derduisende deur die eeue is presies die teenoorgestelde. Waarhede soos dié van ons verse sus nie
wáre gelowiges nie, dit lanseer hulle! Dis immers waarom die Heilige Gees dit geopenbaar het. Baseer die apostel sy
oproep tot heilige toewyding aan die Here nie júís op "die groot ontferming van God" nie? Is 'vernuwing van denke' nie
júís die sleutel tot 'n lewe volgens God se wil nie? (Rom 12:1-2)

Leser, het jy die Here waarlik lief? Bevestig jou lewe van daaglikse, intelligente, bewustelike en verantwoordelike
gehoorsaamheid dit? Werk jy jou eie heil uit - "met vrees en bewing"? Weet dan, dis omdat God in jou "werk om te wil
sowel as om te werk na Sy welbehae" (Fil 2:12-13). En Hy doen dit, omdat Hy jou van ewigheid af liefhet en sal toesien
dat jy in gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun tot in ewigheid deel van Sy huisgesin sal wees!


Dien dan die Here met 'n onverdeelde hart!