Slide Background
Audio Preke - Eksegeties

45 NO RN01 Romeine 1:01-07 - Neels Oosthuizen

 PDF WEERGAWE

 

 

SKRIF: ROM.1:1-7

TITEL: AAN AL DIE GELIEFDES VAN GOD

TEMA: DIE EVANGELIE VAN GOD IN ROMEINE (1)

TESIS: AFGESONDER VIR GOD

INLEIDING:

 

Deur die genade van God wat aan my gegee is die afgelope 21jaar, kon ek, óf deur prediking óf deur Bybelstudies, verskeie reekse preke aan die gemeente lewer uit die Woord van God.

As ek vinnig terugdink deur die afgelope jare, het ons volledige Bybelboeke deurgepreek,  of in Bybelstudies behandel Joshua; Rut; Nehemia; 1 en 2 Samuel; Job; Hoogliedere van Salomo; Daniël (nou vir die tweede keer by die Bidure); Jona; Habakuk; die evangelie van Johannes; Efesiërs, Filippense; Kolossense; 1en 2 Thessalonisense; Jakobus; 1-2 Petrus;  en Openbaring (drie keer by bidure en Woordskool).

Dit sluit nie die tematiese reekse in oor God, die Woord van God, sonde; die mens, die wederkoms; die Kerk, ens. nie.

Daar was ook kort reekse oor die bergrede van Jesus Christus; die profetiese rede van Jesus Christus, die gebed van Jesus Christus in Joh.17; ens.

Dit beteken nie dat ons alles gesê het wat daar gesê kan word deur hierdie reekse prediking of Bybelstudies nie, dis onmoontlik!

God se Woord kan nooit uitgepreek raak nie – want óns verander en groei, ons omstandighede verander, en omdat God se Woord lewe en nie net letters is nie, het dit altyd ‘n nuwe effek en resultaat op ons lewe, maak nie saak hoeveel keer ons dieselfde gedeeltes in die Skrif preek of lees nie.

Toe God my geroep het om in die bediening te wees, het Hy duidelik 2Tim.4:1-5 swaar op my hart gedruk, en ek kon eenvoudig nie daarvan wegkom nie, al wou ek ook – dit het soos ‘n lig in die Bybel vir my geskyn, dit was soos ‘n vuur in my hart, tot vandag toe.

Ek het baie in my bedieningsjare gedink en belééf wat die profeet Jeremia beleef het: Jer.20:9 “En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in Sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.”

God se woord het my aangespreek: “Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by Sy verskyning en koninkryk; verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering…” en die res wat hierop volg in 2Tim.4:1-5.

Ek het geen ander keuse hierin nie, ek is geroep, soos Paulus ook gesê het in Hand.20:27  “Om die hele raad van God aan julle te verkondig.”

Nie alles van die raad van God is aangenaam nie, want dit skreeu teen die logika van die sondige mens, en dit krap mense se lewens om – maar dit vernuwe mense ook, en gee aan mense die nuwe lewe in Christus, wat God behaag.

Ek het baie gebid, en gewik en geweeg om Romeine aan u te bring, want hierdie boek in die Bybel spreek dinge aan wat baie nie wil hoor nie.

Tog, wil ek vir u sê, Romeine is sekerlik die grootste en belangrikste boek in die ganse Bybel.

Ek kan met vrymoedigheid vir u sê dat Romeine letterlik die hele evangelie van God in één boek is.

Niemand kan deur Romeine werk en nie daardeur aangespreek word, of nie onherroepelik daardeur  verander word nie.

Dit was Romeine wat Martin Luther se lewe onherroepelik verander het, en wat gesorg het vir die grootste herlewing van die Kerk van Jesus Christus, van alle eeue, nl. die groot reformasie.

Satan se leuens wat die Kerk vir baie eeue gebind het aan die siel vernietigende rituele en leerstellings van die Rooms Katolisisme, is uitmekaar geruk, en het geloofsvryheid in Jesus Christus vir miljoene mense gebring.

Dit was hierdie boek van Romeine waarin God se soewereine genade en Sy ongelooflike evangeliese plan uiteengesit word, wat die hele geskiedenis verander het.

Wat anders kon Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees in ‘n lofsang laat uitroep het: Rom.11:33-36 “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Mag hierdie loflied, die lofsang van hierdie gemeente word, en van elke kind van die Here wat hier aanbid.

Mag Romeine vir elkeen van ons, die kosbaarste juweel van ons Christelike lewe word.

Mag ons hieraan begin eet, en mag ons die smaak daarvan so vullend en heerlik vind, dat ons nie genoeg daarvan sal kan kry nie.

Ons gaan vanmôre net die eerste vers met u behandel, wat alreeds vir u ‘n aanduiding sal wees hoe lank ons aan hierdie boek gaan spandeer, want ek kan nie vir u sê hoe lank dit ons gaan neem om hierdie boek onder die knie te kan kry nie.

Kom ons vergeet van die tydperk, en neem dit net stap vir stap, want God het iets om vir ons te sê, en Hy gaan ons nie oorweldig met te veel inligting op ‘n keer nie.

Probeer asb. om gereeld te kom, sodat u nie dit wat God belangrik vir u ag, gaan mis nie.

As u Romeine net gaan deurlees, gaan dit nie vir u soveel beteken soos wat dit deur die prediking en die uitlegging daarvan vir u gaan beteken nie, want daar gaan belangrike toepassings gemaak word uit elke aanbieding, wat jou lewe gaan raak.

Selfs die eerste vers, hoe ongelooflik jy dit ookal mag vind, het toepassing op jou lewe.

“Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder vir die evangelie van God..”

Daar is drie punte waaraan ons gaan aandag gee in hierdie teksvers, ons gaan kyk na die outeur van die brief, ons gaan kyk na sy roeping, en ons gaan kyk na sy afsondering deur God.

Ons gaan vanmôre net na die eerste twee kyk, en sal volgende Sondag die derde een hanteer, waaraan ons meer tyd sal moet bestee.

1 PAULUS – DIE OUTEUR VAN DIE BRIEF

Wie was hierdie man Paulus? Waar kom hy vandaan? Wat was so besonders aan hom?

As ons vir u sê dat hierdie brief aan die Romeine sekerlik die grootste en belangrikste boek in die Bybel is, dan moes Paulus sekerlik ‘n fenomenale man gewees het.

Ek is seker daarvan dat wanneer u die NT lees, en u lees van Paulus en wat hy alles gesê en gedoen het, dan kan u nie anders as om net bewondering vir hom te hê nie.

Paulus het die grootste deel van die NT geskrywe, of hy was ten minste vir die grootste deel van die skrywe van die NT verantwoordelik, want hy het nie alles persoonlik geskrywe nie, maar het die meeste daarvan gedikteer aan iemand wat dit namens hom neergeskrywe het.

Selfs die Romeinebrief was nie self deur Paulus geskrywe nie, maar Paulus het ‘n sekretaris met die naam van Tertius gehad wat alles vir hom geskrywe het: Rom.16:22 “Ek, Tertius, wat die brief geskryf het, groet julle in die Here.”

Daar is ‘n vermoede dat Paulus erg verswakte oë gehad het, miskien van die groot lig uit die hemel wat hom omstraal het tydens sy bekering op die Damaskus pad, in Hand.9:3

Dit is nie vreemd aan Bybelskrywers om ‘n skrywer in sy diens te hê om alles neer te skryf wat hulle sê of leer nie – byv. die profeet Jeremia, sy skrywer was ‘n man met die naam van Barug        Jer.36:32; 45:1

Paulus was eers Saulus gewees vóór sy bekering, en het eers Paulus geword nadat  die Here hom op sy eerste sendingreis gestuur het. Hand.13:2-9

Net vir interessantheid: Saulus is die Hebreeuse woord vir Paulus in Grieks en daar sit miskien iets besonders hier agter.

Toe Paulus ‘n Fariseër was, was hy afgesonder om die wet te bestudeer en af te dwing op die Jode – Fariseër beteken letterlik: “afgesonderde m.b.t. die wet”

Maar noudat Paulus ‘n Christen geword het op die Damaskuspad, en God hom beskik het om die evangelie van Jesus Christus te verkondig, nie net aan die Jode nie, maar ook  aan die heidene, kon hy daarom nie meer die naam Saulus dra “afgesonderd vir die wet” nie, maar eerder Paulus, “afgesonderd vir die evangelie van Jesus Christus.

Paulus het egter ‘n geskiedenis as Saulus gehad wat hom verseker moes gediskwalifiseer het om in die posisie te staan waarin hy hom nou bevind as outeur van hierdie fenomenale boek in die Bybel.

Hy het die Kerk van Jesus Christus gehaat met ‘n gewelddadige haat, hy het menigtes Christene vervolg en geslaan en in tronke laat opsluit – hy het letterlik “moord geblaas”  teen die dissipels van die Here Hand.9:1-2

Geen Christen was veilig met Saulus in die omtrek nie – hy was die mees gevreesde persoon onder Christene op aarde, en hy moes in enige menslike logika die mees onwaarskynlikste man op aarde wees om eendag ‘n brief soos Romeine te kon skrywe.

As Paulus dus hierdie brief begin met sy naam Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus.” dan bevat dit die mees bekorende boodskap vir enige Christen op aarde.

Ek is nie meer Saulus, die vervolger van Christene nie, ek is Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus.”

M.a.w. dit gaan nou nie meer oor wie ek is nie, maar oor aan wie ek behoort.

Liewe Christen, en dit is ook waar van jou en my – dis nie meer wie jy is nie, maar aan wie jy behoort!

Jy kom ook uit ‘n verlede wat jou behoort te diskwalifiseer vir die koninkryk van God, jy het ook ‘n verlede gehad wat jou behoort te diskwalifiseer om enige iets in die Naam van Jesus Christus te doen of te sê, maar jou eienaarskap het verander.

Iemand anders is nou die Meester van jou lewe, en Hý gee jou ‘n outoriteit in Sy Naam wat jy nog nooit in jou lewe gehad het nie.

Saulus wat Paulus geword het, se hele visie en lewenskoers het dramaties verander, alles het vir hom nuut geword.

Dis met jou ook so, liewe Christen, God het jou “verlos uit die mag van die duisternis, en jou oorgebring in die koninkryk van die Seun van Sy liefde.” Kol.1:13

Toe ek in die weermag was, het ek geleer wat se gesag die onder offisiere en die offisiere het op ons as manskappe, jy moes op aandag spring as enige een van hulle net by jou verbyloop, jy moes die offisiere salueer op enige plek waar jy in hulle omgewing kom.

As hulle ‘n bevel uitgebulder het, het jy nie eens gewyfel nie, jy was onmiddellik gehoorsaam en jy het gedoen wat jou beveel was.

Maar, toe ek met die weermag klaar was en weer ‘n siviele persoon in die straat geword het, het hulle geen mag meer oor my gehad nie, ek spring nie meer op aandag vir hulle nie, ek gehoorsaam nie meer hulle bevele nie, die rede, want in die gebied waarin ek nou is, het hulle geen gesag meer oor my nie.

Dis presies wat met jou en my gebeur het by wedergeboorte, ons is verlos uit die mag van die duisternis, en is oorgebring in die koninkryk van die Seun van God se liefde.

Ons spring nie meer op aandag vir satan of sy magte nie, hulle het geen gesag meer oor ons lewe nie, die outoriteit waaronder ons nóú lewe, is groter as die mag van Satan en sy magte. 1Joh.4:4

Ons eienaarskap het verander, ons is almal diensknegte van Jesus Christus, ons luister nou na Sý opdragte en leringe.

As Paulus dus na homself verwys as “’n Dienskneg van Jesus Christus” , beteken die woord “dienskneg” in die Griekse teks: “Bondservant”, in Afrikaans: letterlik, “slaaf”

Dit beteken om letterlik alles van jouself prys te gee, en slegs dit te doen wat jou Meester van jou wil hê.

Alles wat so ‘n dienskneg doen, doen hy onder die outoriteit van sy Meester.

Hy tree dus nooit uit homself op nie, maar hy kyk altyd op na sy Meester in enige gegewe situasie, en wag vir Sy Meester om te sê hoe hy moet optree of reageer.

Hierin was Jesus Christus die volmaakte Dienskneg van Sy Vader : “Ek het uit die hemel neergedaal nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” Joh.6:38

Jes.42:1 is God se profesie aangaande Jesus Christus, wat Hy Sy Kneg noem: “Daar is My Kneg wat Ek ondersteun. My Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het My Gees op Hom gelê; en Hy sal die reg na die nasies uitbring.”

As jy ‘n kneg van die Here is, is jy in die goeie geselskap van Jesus Christus self, wat gekom het om die wil van God op aarde te doen.

Dis belangrik dat ons moet verstaan nie Paulus of Jesus “secondhanders” was nie, m.a.w. hulle het nie twee here gedien nie.

Jesus Christus het net een gehad wie Hy wou behaag, en dit was Sy Vader, selfs in die vooraand van Sy kruisiging in die tuin van Getsémané, het Hy gesê: “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.’

Paulus was ‘n dienskneg van Jesus Christus, en hy het net een Here gehad, Jesus Christus – dit het nooit vir hom gegaan om mense te behaag nie.

As Jesus die skares om Hom wou behou ter wille van Sy populariteit onder die mense, en nie volgens die wil van Sy Vader nie, sou Hy ‘n secondhander gewees het.

Paulus was hoeveel keer geslaan, gevange geneem, mishandel, en deur die Jode verwerp, omdat hy nie ‘n secondhander wou wees nie.

Ek wonder hoeveel predikante is vandag secondhanders, wat vandag in die bediening staan ter wille van die applous van die mense.

Secondhanders doen alles vir hulle eie eer, en hulle eie status, en vir hulle eie sak, en gee nie om vir die verkondiging en die lering van Jesus Christus se leer nie.

Hulle is banger om mense te verloor as om God se respek vir hulle te verloor deur nie die hele raad van God aan die mense te verkondig nie.

Paulus het net een gehad om te behaag, en dit was Jesus Christus, sy Here en Meester.

En jy, geliefde – is dit met jou ook so?

Is dit vir jou belangriker wat die mense van jou dink, as Jesus Christus?

Sal jy eerder doen waarvoor jy lof van mense sal ontvang, as om so te doen om lof van God te ontvang?

Toe Jesus hier op aarde was, het baie mense dieselfde met Hom gedoen, selfs die wat in Hom geglo het: Joh.12:42-43  “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van mense meer lief gehad as die eer van God.”

Dis duidelik waar Paulus gestaan het, hy het nie omgegee wat die mense aan hom doen nie, God se eer was vir hom belangriker.

2 HY WAS ‘N GEROEPE APOSTEL

V1 “Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel..”

Paulus was ‘n “geroepe apostel” – daar is ‘n rede waarom hy hierdie terme omtrent sy roeping as apostel gebruik.

Paulus se aanstelling as apostel kom nie uit homself nie – hy het nie op ‘n stadium in sy lewe as Christen by homself besluit, ek gaan van nou af ‘n apostel van Jesus Christus wees nie.

Sy apostelskap was nie eens deur die Kerk aan hom gegee nie, dit is nie asof die Kerk besluit het dat Paulus so ‘n fenomenale man was, wat so ‘n dramatiese bekering gehad het, en so baie kennis van die Bybel het, dat hy nou maar as ‘n apostel verkies kan word deur die meerderheid lidmate nie.

Die apostelamp kan nie deur mense aan ‘n mens gegee word nie, hierdie is God se soewereine besluit alléén – alle mense wat hulleself ‘n apostelamp toe eien, of wat deur ‘n Kerk aan hulle apostelskap gee, is verantwoordelik vir die aanstellings van valse apostels.

Paulus noem dat hy die kentekens van ‘n apostel onder die verlostes van die Here verwerklik het: 2Kor.12:12 “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.”

In 1Kor.9:1 sê hy vir die Christene in Korinte: “Is ek nie ‘n apostel nie? Is ek nie vry nie? Het ek nie Jesus Christus onse Here, gesien nie? Is julle nie my werk in die Here nie?”

‘n Apostel is iemand wat fisies deur die Here self geroep en aangestel word, dit moet iemand wees wat Jesus Christus fisies gesien het nadat Hy opgestaan het uit die dode, en letterlik deur die Here vir hierdie doel gestuur word.

Paulus noem die feit dat Jesus Christus die laaste aan hom verskyn het 1Kor.15:8

Paulus noem die verstommende feit dat Jesus Christus letterlik aan hom gesê het, daarop die Damaskuspad: Hand.26:16-17 “Rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ‘n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn, terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie toe Ek jou nou stuur.”

Jesus se verskyning aan Paulus en Paulus se aanstelling as apostel daardie dag was nie maar toevallig of sommer so uit die bloute nie, luister wat skrywe Lukas in Hand.9:15 in verband met Paulus hieroor:

Onthou, Saulus was ‘n gevreesde man, en God stuur vir Ananias, om vir hom die hande te gaan oplê in die huis van Judas in reguitstraat, en Ananias sê toe vir die Here: “Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy U heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat U Naam aanroep.”

En dit bring ons by V15 “Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om My Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.”

Paulus was God se uitverkore werktuig, wat beteken, van sy moederskoot af – God se uitverkiesende genade is nie ‘n toevallige besluit in toevallige omstandighede nie, God is nie ‘n opportunis nie, God is nie afhanklik van die sogenaamde “regte omstandighede”  wat per toeval Sy Goddelike plan sal dien nie,  God neem Sy besluite vanuit die ewigheid af.

God het oor Paulus se apostelskap besluit vóór die grondlegging van die wêreld, Paulus was tot die apostelamp bestem van sy moederskoot af.

Paulus was nie verniet, of maar net toevallig so goed opgelei in die wet van God nie, alles moes dien om sy apostelskap wat hy sou ontvang in die toekoms, te dien.

Paulus se roeping kom van God vanuit die ewigheid, God het egter bepaal van watter dag af hierdie roeping vir Paulus sou realiseer.

Toe God in Sy ewige raad bepaal het dat die apostels van Jesus Christus die fondasie van die NT Kerk sou wees, was Paulus ook onder die manne wat God daarvoor bepaal het.

Dit is waarom ons lees dat Paulus skrywe in Efes.2:20-22 dat die gemeente gebou word op die “fondament van die apostels en die profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”

God besluit dus nie uit die bloute, in ‘n krisis besluit, o ja, kom Ons maak Paulus ook maar ‘n apostel as fondament van die Kerk, nie.

Paulus was die laaste apostel van Jesus Christus wat daar ooit geleef het, ná hom, sou daar geen apostel weer wees nie.

‘n Apostel van Jesus Christus het die roeping gehad om die presiese woorde van die Here aan die Kerk te leer, en dit as nalatenskap te verseker vir die Kerk oor al die eeue.

Dit is hoekom die Bybel nou volledig en afgesluit is.

Dit is presies wat die Romeine boek deel van is – God het dit nodig geag dat Romeine in Sy Bybel moet wees, t.w.v. die kinders van die Here.

As ons dus na die boodskap van Romeine luister, luister ons na God.

Ek kan dus met reg vir u sê – as jy kom luister na die leringe van Romeine, sal jy God se stem hoor vir jou.

Volgende week dan, die laaste deel van v1 “Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel van Jesus Christus, afgesonder tot die evangelie van God…”