Slide Background
Videos

 

Wie is ’n sondaar

Skriflesing: 1TIMOTHEUS 1:12-17

Kernvers(e) : 1TIMOTHEUS 1:15

Broers en susters

Ons almal word gebore in sonde en ons almal is van nature kinders van die toorn van God. (Ef 2:3) en hieruit vloei dit ook dat ons almal met een groot siekte gebore word en hierdie siekte se naam is HOOGMOED. En hierdie siekte sal ons bybly tot die dag dat ons sterwe en ons sal elke dag daarteen moet veg.

Ek wil hê ons moet bietjie vanoggend kyk na wat God se definisie van ’n sondaar is.

Ons is tog mos almal sondaars en Jesus Christus sien ons hier in vers 15 het in die wêreld ingekom om sondaars te kom red. Dit was sy hoofdoel, alhoewel vir God se eer en nie vir die mens se eer nie. Maar nou weet ons ook alle mense word nie gered nie. en die vraag is nou – As ons almal sondaars is, en Jesus Christus het aarde toe gekom om sondaars te red – Hoekom word almal dan nie gered nie? Dit gaan oor God se definisie van ’n sondaar.

As ons na die evangelie kyk – Die goeie nuus dat Jesus Christus afgekom het aarde toe, en mens geword het en ons kom loskoop het deur vir ons te kom betaal het met sy bloed en mens OORVEREENVOUDIG DIE EVANGELIE  TOTDAT JY HOM NIE VERDER KAN VEREENVOUDIG - maw tot sy mees gekonsentreerde vorm – dan bly daar net drie woorde oor.

En hierdie drie woorde is so belangrik, dat as jy enige een daarvan weggooi of selfs net effens verander, dan sit jy met iets minder as die evangelie. En enige evangelie wat minder is as die ware evangelie, is 'n selfvernietigende vals evangelie of soos Paulus vir ons leer in Gal 1:6-10. 'n 'ander evangelie". So 'n evangelie kan niemand red nie; Inteendeel hierdie "ander evangelies" was en is deur die eeue die oorsaak van ontelbaar baie mense se ewige verdoemenis.


Nou - Wat is hierdie hart van die evangelie, hierdie absolute kern, hierdie drie woorde?

God red sondaarsGod red sondaars!

Presies dit is wat ons teksvers in vers 15 sê: “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red” (AOV) (1Tm 1:15) Nuwe vertaling sê

'Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word

Of

Rom 5:8 het dieselfde idee: 'Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat
Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was'.

Ons weet dit is God wat red en ons weet dit gaan oor redding, maar ons is dalk geneig om te dink dat dit darem redelike goeie mense is wat deur Hom gered word en nie absolute werklike lelike sondaars nie.

En wat ek nou gaan sê is uiters lewensbelangrik dat ons dit sal onthou, want ons is maar alte geneig om weer en weer op die leertjie te klim van eie verdienste. Ons sien hierdie leertjie wat van hier tot in die hemel strek en elke keer as ons ’n goeie daadjie doen dan is ons een trappie hoër en nader aan die hemel en het darem weer een trappie ekstra verdien. Nee nee nee – God red uit genade en nooit ons eie verdienste nie.


Kom ons kyk nader na hierdie drie woorde.

  1. Wie het lief? GOD

Die antwoord is natuurlik die Drie-enige God, het lief, soos ons gesien het in Rom 5:8.    Ons het maar net lief omdat God ons eerste liefgehad het (1Joh4:19). Omdat die Drie-enige God is wie Hy is. Is Sy reddende liefde iets wonderliks. Dis absoluut uniek en volmaak.

As ons nou sou kyk na ’n paar karaktertrekke van God se reddende liefde kan ons sê

  • Dit is Christosentries – Christus gesentreerd - Maw geen sondaar word ooit op ’n ander manier gered as slegs op grond van Christus se verdienste Hieroor is die Woord van God baie duidelik (Jh 14:6: 1Tim 2:5). En kom ons lees

Hand 4:12     Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

Netso belangrik is die Nuwe Testamentiese aandrang dat Christus óf alleen-redder is, óf glad nie. Die vermenging  van selfs net 'n naelskraap vertroue in jou eie verdienste of seremoniële godsdienstigheid, diskwalifiseer jou om deel te hê aan Jesus Christus  (vgl. Gal 5:2-4).- God deel nooit Sy eer nie.(Jes42:8; 48:11)

Gal 5:2-4  Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie.

Gal 5:3  Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou.

Gal 5:4  Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.

  • Dit is geestelik. Dit is die Heilige Gees wat die draer is om God se liefde te kom aflewer. En Hy hou dit in stand. Sonder Sy
    • oortuigende (Jh 16:7-11).
    • wederbarende (Jh 3:5-8; Tit 3:5) en
    • verligtende werk (1Kor 2:10-16)
    • kan niemand reddend met Christus verenig word of bly nie.
  • Die reddende liefde van God - is ewig. Dit strek vanuit die ewige verlede dwarsdeur die tyd, tot in die ewige toekoms in. Voor die skepping al het God Sy geliefdes uitgekies. En Hyself dra hulle deur tot en met die volmaaktheid die ewigheid in (Jh 6:35-40: Rom 8:28-30: Ef 1:4; 2Tm 1:9; 1Pt 1:20; Op 13:8; 17:8).
  • Dit is soewerein - As Skepper is God die onbetwisbare Eienaar en Skepper van alles en almal. Wie kan Sy reg bevraagteken om Sy liefde uit te stort soos en op wie Hy wil? As dit God se plan is, Wie is ek of jy of enige iemand om te durf waag om vir God te sê "Hoekom doen U dit so?" Of dit en dat is onregverdig – Weë hom, ellende wag vir hom/haar wat dit sou durf vra. Dit is God se wêreld, dit is Sy skepping. Hy kan en mag en sal doen wat Hy wil en gaan doen. Ps 115:3 en Lees maar (Jes 45:9 ev en Rm 9:6-29 deeglik deur.)
  • Dit is onvoorwaardelik en onverdiend - Geen persoon kry dit omdat hy/sy eers iets op voorwaarde moes doen of deur enige verdienste van enige persoon wat dit ontvang nie (Hd 13:48: Rm 9:11-13.16:10-20: 1Kor 1:27-29: Ef 2:8; Fl 2:12-13; 2Tm 1:9). Dit vloei suiwer vanuit God se wil en raadsbesluit.
  • Dit is persoonlik - Dit is op spesifieke mense gerig (Jh 6:39; 10:27-30; 17: 2,6.9.24; Hd 13:48; 18:9-10; Op 13:8; 17:8). Maar terselfdertyd is dit
  • Dit is korporatief. Die ware kerk is gesamentlik, as 'n organiese geheel die bruid van Christus (2Kor 11:2; Ef 5:25-27; Op 19:7-9: 21:2).
  • Dit is universeel - Die Here se geliefdes kom vanuit elke nasie, stam, volk en taal (Op 5:9; 7:9). Nie net Jode of net wittes of net mans ens nie.
  • Die reddende liefde van God is histories. Hierdie bemindes kom vanuit al die eeue. Elke geslag sal verteenwoordig wees tydens die bruilofsmaal van die Lam.
  • 2. Vir wie het God Lief?   -  Sondaars!

    Nou - As God dan nie alle mense reddend liefhet nie – want dermiljoene sterf immers in hulle eie sonde - ontstaan die vraag: Wie is die bemindes dan? Op wie lê God se verlossingsliefde beslag?  Watter soort mense word dan wel deur Hom gered?

    Die Bybel antwoord baie duidelik: God red sondaars - as sondaars

    • ten spyte van wie en wat hulle is, of 'nie is nie'
    • Hy het lewende dooies Lief
    • mislukkings in terme van Sy volmaakte standaarde,
    • rebelle teen Sy Wet,
    • mense wat magteloos is om hulle ewige lot te verander.


    Dis 'n moeilike les. maar ons moet dit leer.
    Dit beteken dat God se liefde op niemand beslag lê – omdat hy of sy iets is nie. Nee, - Nooit is redding te danke aan iets in die sondaar self nie. Mense word dus nie gered omdat hulle hul bes probeer nie; of omdat hulle beter vaar as ander nie.
    Opvoeding, rykdom, geleerdheid, begaafdheid en skoonheid speel geen rol nie.

    Niemand is n voorwerp van God se besondere liefde omdat hy godsdienstig, of 'n kerkganger is, of hom laat aanneem en voorstel het, of gereeld sy tiendes gee nie.

    Netsomin is sondebelydenis, of vroomheid, of gereelde gebed of restitusie 'n kwalifikasie.

    God red nie mense

    • omdat hulle hul laat doop, of omdat hulle siekes verpleeg, of
    • omdat hulle armes kos gee, of omdat hulle sendingwerk doen nie.
    • Nie eers is die aanroep van die Here of die grootste geloof ooit 'n grond vir redding nie. (Aanroep en geloof is noodsaaklik vir redding maar dit is nie ’n grond vir redding nie.)

    MAW: God het sondaars lief ten spyte van wie of wat hulle is.

    Hy red -Skuldiges, Ellendiges, vuiles, mislukkings, uitvaagsels en patete.

    Hy red uitsigloses, moedeloses, koersloses, hopeloses.

    • Christus het gekom vir blindes. lammes. kreupeles, dowes. stommes.
    • God red oortreders van Sy Wet, mislukkings i.t.v. Sy volmaakte standaarde:
    • godloënaars, afgodsdienaars, lasteraars, sabbatsbrekers, ouer-veragters, moordenaars, onsedelikes en egbrekers, diewe, leuenaars, hebsugtiges.

    Hy red geestelik-dooies, vleeslikes, wêreldgelykvormiges. satanbeheerdes.

    • mense onder Sy toorn wat op pad is na die hel.

    En daar is niks in ’n persoon al is dit hoe sleg, wat hom of haar kan diskwalifiseer vir redding nie.

    Nou kom ons by die lewensbelangrike waarheid wat beklemtoon moet word - juis omdat dit so dikwels verwaarloos word: God red nie net sondaars as sondaars nie; Hy red slegs sondaars, wat weet dat hulle sondaars is en dit bely sonder om  doekies om te draai.

God red m.a.w. nie

  • Mense wat nie bereid is om hulle sondes te erken en te bely nie
  • Nie Fariseërs en huigelaars en vromes
  • Mense wat nie bereid is om te erken dat hulle sondaars is nie
  • Hy red nie "Goeie mense" nie ; Hy red nie godsdienstige mense nie.

Dit  is God se definisie van ’n sondaar:

Hy red slegs sondaars, wat weet dat hulle sondaars is en dit erken en  bely.

Dit is wat die Here bedoel as Hy sê dat Hy net vir sondaars gekom het (Lk 18:9-14; 19:10).

Kom ons kyk weer na die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lk 18:9-14

Luk 18:9-14  Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel:

Luk 18:10  Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. Luk 18:11  Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.

Luk 18:12  Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’

Luk 18:13  Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.

Luk 18:14  Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Een van die Jode se grootste probleme was hulle godsdienstige selfvoldaanheid. Dit het hulle doof gemaak vir die evangelie.

Wat dus kardinaal belangrik is, is God se definisie van ’n sondaar. Nie my en jou definisie nie – God se definisie van ’n sondaar.

 

Kyk na Jesus se woorde by die roeping van Matthéüs (Mat 9:9-11)

Mat 9:9  En toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy ‘n man met die naam van Matthéüs by die tolhuis sit; en Hy sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.

Mat 9:10  En terwyl Hy in die huis aan tafel was, het daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan.

Mat 9:11  En toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir sy dissipels: Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?

Mat 9:12  Maar toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.

Mat 9:13  Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

Waarom is dit so? Want sonder ware sondebesef is Christus se versoeningswerk net van akademiese belang. Dit kan maksimum tot 'n kunsmatige geloof lei.

God red SLEGS mense wat selfmoord gepleeg het – Geestelike selfmoord – Nederige mense wat ware sondebesef het en hulleself as ’n lewende offer vir God gee (Rom12:1)

Nog belangriker: God red sondaars ten einde Homself te verheerlik. En dis tog duidelik dat God die eer kry as ek werklik verstaan hoe afhanklik ek van Sy genade is - iets wat sonder sondebesef net nie moontlik is nie.

3. So hoe kom God se Liefde tot uitdrukking? – In Redding

Wat gebeur met 'n persoon as God se Besondere/ Reddende Liefde op hom of haar beslag lê?

  1. Hy (of sy) begin iets van God se heilige geregtigheid
  2. Dan sien hy homself as n verwerplike sondaar.
  3. En uiteindelik sien hy dan vir Christus as enigste oplossing vir sy verskriklike dilemma.
  4. Dit lei dan noodwendig daartoe dat hy vanuit sy geestelike bankrotskap die Here Jesus as enigste Verlosser en Koning omhels.
  5. Soos iemand wat verdrink bly hy dan aan Hom hang vir lewe en dood vir tyd en ewigheid. En met vaste tree neem hy dan elke dag die kruis van gehoorsaamheid
  6. Hy begin sy sonde haat en begin gevolglik vlug daarvoor. Om meer en meer soos Jesus te word, raak sy hoogste doelwit of ambisie. Geleidelik neem die patrone van godsvrug gestalte in sy lewe aan.
  7. Sy broers en susters begin uitstaan asof hulle soos ligte skyn. Nêrens is hy meer tuis as tussen medegelowiges en geliefdes van die Here nie.
  8. Uiteindelik volhard hy jaar in en jaar uit teen die begeertes van sy vlees teen die suigkragte van die wêreld en die aanslae van die Duiwel.
  9. En hoe langer die stryd voortduur, hoe meer besef hy sy totale afhanklikheid van 'n Middelaar
  10. Hy skuil dus al hoe dieper in Christus.

Ek vra u vanoggend – Is jy gered?

Eintlik kan jy net een van twee antwoorde op hierdie brandende vraag gee:

Ja,      of       Onseker!

■ Sommige is uitsigloos en sal sê: 'Ek is in 'n patetiese toestand - beslis sonder God en sonder hoop!'   

  • Wel dit sê niks nie. Al die geliefdes is nog nie ingebring nie. Wie weet dalk is jou hartoorplanting / jou redding / wedergeboorte , net om die draai.

In elk geval - Is daar nie talle Bybelse uitnodigings aan sondaars om in die Here se Liefdevolle arms in te hardloop nie? Waarom huiwer jy? Wie se skuld is dit dat jy nog sonder God is? Al struikelblok is jou eie ongehoorsaamheid, jou eie onwilligheid en ongeloof. Jy en jy alleen dra die skuld vir jou toestand - nie waar nie?

■ Ander is verhard: Ek stel nie belang nie!'

Wel as God se liefde kom - kom dit! Een oomblik is jy n halsstarrige rebel die volgende oomblik lê jy op jou gesig voor die Here - en die volgende oomblik is jy Sy ywerige dissipel.  So het miljoene dit al ervaar. God se liefde slaan baie dikwels onverwags en onweerstaanbaar toe!

■ Wat sê die Woord vir die onsekeres? Baie duidelik roep die NT oor en oor: 'Dis onnodig om onseker te bly!'

Die uitnodiging van die Bybel se vyfde laaste vers staan nog steeds so vas soos die berge:

Op 22:17. Die Gees en die bruid sê: Kom! En elkeen wat dit hoor, moet se: Kom!' En elkeen wat dors het moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê.moet dit kom kry verniet.

En hierdie is nie net 'n uitnodiging om eenmaal te drink nie; dis n bevel om weer en weer te drink.

Wees verseker. elkeen wat in opregtheid kom, kan staat maak op die Here se belofte in Jh 6:37: Ek sal hom wat na My toe kom nooit maar nooit verwerp nie. '

(Gr. oo may – beteken Letterlik ’n dubbele negatief – Nooit maar nooit).

Aan die onsekeres sê hierdie uitnodiging en belofte dus: Al het jy hoeveel keer in die verlede gedrink -  kom nou weer.

Jy bly onseker omdat jy nog altyd halfhartig en kleingelowig was. Kom nou. beslis en gelowig! Hou op om God n leuenaar te maak. Sy beloftes is algeheel betroubaar. Kom dus, maak die transaksie vas - eens en vir altyd!
Spoedig sal die Gees dan in jou begin roep: Vader my Vader!' (Rm 8:15-16; Gl 4:6). En dan sal jy weet dat jy weet wat jy weet. -

■ Net 'n laaste woord aan diegene wat sonder huiwering Ja sê - Diegene wat weet dat God eens en vir altyd op hulle lewe beslag gelê het:

Maak elke dag jou roeping en verkiesing vas - dan sal jy nie struikel nie. En jy sal uiteindelik 'n vrye en feestelike toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser Jesus Christus verkry (2Pt 1:10-11. OAV).

Dien die Here dus met n onverdeelde hart! En laat die sentrale hartsbegeerte van jou lewe steeds wees om Horn te behaag en te verheerlik!

Niks mag vir jou belangriker wees  nie!

Amen